Hebron Christenskool
Ons visie:
Om deur Bybelgefundeerde, Christusgesentreerde, kwaliteitonderwys die kinders van wedergebore Christenouers as dissipels van Jesus Christus op te voed en te lei om volwassenes met sterk, beginselvaste karakter te word.
Hebron Christenskool
Hebron Christenskool bestaan reeds vanaf 1998 en net die Here se voorsiening en wysheid kan werklik die toekoms bepaal. Ons kan net getuig van Sy goedheid en versorging. Hebron Christenskool is toegewyd om kwaliteitonderrig en sover ons geriewe dit toelaat kwaliteit sportafrigting te bied aan ons leerlinge. Ons is toegewyd om diens van hoë gehalte aan die ouers te lewer in die hede en in die toekoms.
Wat ’n wonderlike voorreg om deel te kan wees van gehalte Christenonderwys. Hebron Christenskool bied ’n Afrikaanse Christusgesentreerde kurrikulum van graad 1 tot graad 7.
Die skool het sy deure op 20 Januarie 1998 in Bellville geopen en bestaan dus reeds langer as 26 jaar danksy die Here se groot genade en goedheid. Hebron is ’n ouerbeheerde skool wat deur Umalusi geakkrediteer is. Ons is as privaatskool by die WKOD (Wes-Kaap Onderwysdepartement) geregistreer en volg die KABV-leerplan (CAPS) van die WKOD.
Ek kan met oortuiging sê dat die Christen-leerkragte deur God se genade en deur die leiding van Sy Heilige Gees u kind op akademiese, sport- en kulturele gebied sal begelei sodat u kind kan groei om ’n gelukkige, geloofseker kind te wees. U kan ons gerus kontak en kom kuier. Mag die Here U seën en beskerm, en Sy aangesig oor U skyn en U Sy vrede gee.
-Emsie Swanepoel, Skoolhoof



Ons
Kultuur
Hebron Christenskool (HCS) se speelgrond word gekenmerk deur ‘n massiewe en jare oue boom.
Hierdie boom is die middelpunt van waar pousetye spandeer word en bied ure se vermaak vir ons leerders.
By HCS kan ons kinders nog kind wees, kaalvoet speel en hul spontane kreatiewe self wees!
“My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is” Joh 15:8
Mag ons elkeen die vrug van liefde, vreugde en vrede uitleef!

Ons
Geskiedenis
Die skool is in 1998 gestig toe ‘n groep ouers deur die Here gelei is om privaat Christenonderwys aan laerskoolkinders te bied. Die stigterslede glo dat die inisiatief vir hierdie skool uit God se hart kom en dat Hy lank voor die skool ‘n aanvang geneem het, reeds die saak in mense se harte geplant en omstandighede beskik het om dit te laat gebeur. Hierdie stap is geneem weens die oortuiging en besorgdheid van Christenouers dat die onderwysstelsel drastiese wendings gaan neem wat die uitleef van Christenskap nadelig kan beïnvloed.
Willie Krige, een van die stigterslede, som die redes vir die skool se bestaan op in ‘n brief aan Logos Gemeente in 1997.
Lees Willie Krige se Brief hier
Let veral op na sy verwysing van anti-Christelike denkwyses wat in openbare skole gaan bestaan. So ook die toleransie vir verskillende gelowe en hoe die gebruik van Jesus Christus se naam oor tyd nie meer in skole gehoor of toegelaat sal word nie. Die verwydering van Bybelonderrig en die impak daarvan op Christene is toe reeds uitgewys.
Dit is vanuit hierdie visie dat Hebron Christenskool ontstaan het. Ons is ‘n ouerbeheerde Afrikaanse Christenskool wat as onafhanklike skool by die Wes-Kaapse Onderwysdepartement geregistreer is. Die skool word nie deur ‘n gemeente of denominasie beheer nie. Die volle laerskoolfase vanaf Gr.1 -7 word gedek. Alhoewel ons die KABV (CAPS) kurrikulum volg, gebruik ons dit as riglyn. As onafhanklike skool het ons dus die ruimte om inhoud wat strydig is met ons Christen geloofsoortuigings te verwyder en nie te behandel nie.

Leierskap Ontwikkeling
TREE (Transforming Educational Environments) vorm deel van Doxa Deo en bestaan met die primêre fokus om saam met skole te werk en ‘n gesonde omgewing te skep vir die volgende generasie. Saam met die personeel en skoolleiers, word die leerders doeltreffend deur die unieke uitdagings van hul ouderdomsgroep gelei. Ons benadering is gegrond op Bybelse beginsels en spreek kwessies soos identiteit, karakter en moraliteit aan.
By HCS, spandeer die TREE-span tyd saam met ons graad 6 en 7-leerders elke Vrydag. Daar word spanspeletjies gespeel, verhouding gebou, gesprekke gevoer rondom tema’s soos: Ons vrese as jongmens; Wat dit beteken om jouself en ander te lei; Ek is spesiaal; Gesonde verhoudings; Gereedheid vir die hoërskool en nog vele meer. Soms is dit ook nodig om individueel te werk met ‘n leerder wat net wil gesels oor dit wat op sy/haar hart is. Dit is ‘n geleentheid waartydens daar inspraak is in ons kinders se lewens deur jongmense wat die taal praat van ons kinders. Om rolmodel te wees en die geleenthede wat ontstaan te gebruik om te getuig en te vertel van wat Jesus vir elkeen beteken.
HCS
Dokumente
Belangrike dokumente om af te laai

Ons skoolhoof & Graad 1 - Emsie Swanepoel
Kwalifikasies: OD (Junior Primêr)
Pos: Skoolhoof & Graad 1
My Passie: My passie is dat Jesus in alles wat ek sê en doen vir die kinders ’n werklikheid sal word sodat dit nie kopkennis sal bly nie, maar dat Hy in hulle harte sal leef.
My Visie: My visie is om die kinders in ’n liefdevolle, ontspanne, maar goed gestruktureerde omgewing te leer, en om elke kind so te ken dat ek hom/haar kan lei om tot sy volle potensiaal te ontwikkel.

Graad 2 - Jeanette Nigrini
Kwalifikasies: B.Prim.Ed (Grondslagfase) Universiteit van Stellenbosch
Pos: Graad 2
Sport: Netbal
My Passie: My roeping en passie is die onderrig van kinders. Die onderwys is ‘n professie wat my baie naby aan die hart lê. Hier by Hebron Christenskool het ek so ‘n groot voorreg om my passie ten volle te kan uitleef. Ek glo ook daaraan om kinders te bedien met die Goeie Nuus van verlossing deur Jesus Christus.
My Visie: My visie is dat elke kind wat ek onderrig sal weet dat Jesus Christus die enigste Weg, Waarheid en Lewe is. My gebed vir elke kind is dat hulle ‘n ware ontmoeting sal hê met Jesus en sal weet wat hulle indentiteit in Hom is.

Graad 3 - Estelle van der Merwe
Kwalifikasies: BPrimEd (Senior Primêr); BEd (Skoolvoorligting)
Pos: Graad 3
Sport: Swem en Hokkie
My Passie: My passie is om die Woord van God as die basis van menswees vir die kinders uit te leef. Daar is nie ’n ander pad nie.
My Visie: My visie is dat elke kind Jesus sal ken, en dat elke kind in die vrug van die Gees sal leef.

Graad 4 - Carla Luijk

Graad 5 - Xanthé Bronkhorst

Graad 6 - Lesley Krige
Kwalifikasies: MA in Afrikaans en Nederlands (UK); NOS (Unisa)
Pos: Graad 6 & Afrikaans Graad 4-7; Graad 7 Skeppende Kuns
My Passie: Sonder Jesus het die lewe geen sin of waarde nie. By Hebron het ons die wonderlike geleentheid om die kinders te lei in ’n lewens- en wêreldbeskouing waarin geloof in God sentraal staan.
My Visie: Elke kind is kosbaar en vól potensiaal en as onderwyser het ek die geleentheid om positief en kreatief in hulle lewens in te spreek! As elke kind in my klas iets kan ervaar van die groot liefde wat God vir hom/haar het, sal ek voel dat ek in my doel geslaag het.

Graad 7 - Marijke Bothma
Kwalifikasies: B. Tech Menslike Hulpbronbestuur, NHOD
Pos: Graad 7 & Engels Graad 5 en 6
Sport: Atletiek en Netbal
My Passie: Kinders is beslis my grootste passie. My ander passie is opleiding. Wat ‘n wonderlike voorreg is dit dus vir my om kinders te kan onderrig, om ‘n verhouding te kan bou met elke kind en sodoende ‘n positiewe, geestelike invloed in hul lewens te hê.
My Visie: My visie is om kinders opgewonde te maak om nuwe dinge te ontdek, om leergierig te wees – nie net wat skoolwerk betref nie, maar veral die lewe. Ek wil hulle help om hul talente en gawes te ontdek, sodat hulle dit kan aanwend om hul lewensdoel te bereik.

Addisioneel - Rozanne Fourie
Kwalifikasies: B. Ed (I1SF), B. Ed (Hons: Opvoedkundige ondersteuning)
Pos: LO (teorie) en Biblioteek Graad 4-6; LV en EBW Graad 7; en Kuns Graad 1
Sport: Netbal (Graad 4 – 7)
My Passie: Om kinders te help besef dat Jesus Christus hulle onvoorwaardelik liefhet en dat hulle hul identiteit in Hom moet vind.
My Visie: Elke kind wat aan die einde van Graad 7 uit die skool gaan moet weet wie hulle is in die Here en moet Sy woord met vrymoedigheid kan verkondig.

Sekretaresse - Tanja Kemp
Kwalifikasies: B. Com Sportbestuur, NHOD
Pos: Sekretaresse
My Passie: Elke kind het sy eie Jesus storie. Ek wil kinders na die Here toe lei sodat hulle God as hul Verlosser en Saligmaker kan kies.
My Visie: Elke kind moet weet wie hy in Christus is. Elke kind is uniek, God het ons gemaak om uit te staan!

Rekenaarvaardighede - Wanda Fouché
Kwalifikasies: Educare; Skillspro: Windows 1, Excel 1
Pos: Rekenaars (Futurekids-fasiliteerder)
My Passie: Jesus is deel van alles wat ek doen. Daarom glo ek dat ook rekenaarstudie Sy liefde en omgee moet oordra.
My Visie: Ek wil elke kind bemagtig om ten minste basiese rekenaarvaardighede te hê, sodat hulle met gemak hul take kan doen. Ek wil ook elke kind aanmoedig om meer te gee as wat hy/sy glo hy/sy kan doen.

Senior Nasorgbeamte - Roline van Greunen

Assistent en nasorg – Ronel Adams
Kwalifikasies: Graad 12
My Passie: Dis vir my ‘n wonderlike ervaring, om met kinders te werk en nog steeds geestelik te groei.
My Visie: Dit waarvoor ons skool staan, dat mense kan sien God se woord word verkondig en toegepas.
Hebron Christenskool is ’n ouerbeheerde skool, met ’n ouerdiensliggaam wat verskeie funksies in die skool vervul.